Quantcast
Channel: Kouevuur
Viewing all 150 articles
Browse latest View live

Saterdag se dinge

$
0
0

Saterdag gaan ek saam met my een sus en haar twee seuntjies – eers gaan doen ons die Cool Runnings ding. Ons koop 20 ‘rides’ en koukus onder ons grootmens-self dat dit heelwaarskynlik heeltemal te veel is. Die meisie by die toonbank sê ewe ons hoef nie alles op een dag op te ry nie. So trek ons daar weg, maar teen elfuur wonder ons of ons nie dalk nog 20 moet koop nie :lol: Die seuntjies is 5 en 7 jaar oud nie, dus moet hulle elke keer saam met een van ons ry. Maar ons kom gou agter die een van 7 is ‘n gebore renjaer! Ek en sy ma sit agteroor in die karretjie as hy saam met een van ons ry en hy hanteer daai stuurstok soos ‘n pro. Ons vra mooi en die ou by die beheerpunt gee toestemming dat hy een keer op sy eie mag ry, op voorwaarde een van ons bly kort agter hom, net om bevele te skree indien hy oorboord gaan. Wat toe glad nie nodig was nie. Ek wil ‘n video neem, en volunteer om agter hom te ry as oppasser en filmmaker. Wat ‘n “thrill”! Maar ek moes laat waai om by te hou!

Hier gaan ons:

Hierna durf ek saam met haar ‘n kinderpartytjie aan, van ‘n 3-jarige. Ek staan verstom oor die skaal waarop daar deesdae kinderpartytjies gehou word. Nie sommer net in die agterplaas met ‘n tafel vol soetgoed, soutgoed en drinkgoed nie. Nie sommer net jou kind aflaai en later vanmiddag weer kom oplaai nie. Nie aan-aan speel of sulke ordinêre kinderspeletjies nie. Nee, o genade!

Die partytjie is op ‘n wynplaas, wat lyk my spesialiseer in hierdie ding, want daar was terselfdertyd nog twee kinderpartytjies aan die gang, elkeen in sy eie afgebakende spasie. Daar is egter een groot springkasteel en ‘n “slip-‘n-slide” waar al die kinders van al die partytjies deurmekaar speel. Ek sit en verkyk my aan alles. Dis hier waar ek sien hoe kinders werklik kleurblind is. Hulle speel met mekaar en val en spring en loop hand om die skouer – ongeag wit, bruin, geel of pers. En ek wens so dat dit kon verder uitkring as net by ons kinders. Maar op die stoep sit die ouers maar nog in klompies-klompies – elke kleur so min of meer bymekaar. Al is jou kind genooi na die partytjie, dit sukkel nog maar om te voel ons is almal dieselfde.

Die kinders kry elkeen ‘n gedekte plek, met koek, ‘n emmertjie vol soet- en soutgoed (wat hulle mag huis toe vat). Die partytjie begin twee namiddag. Drie-uur word daar hamburgers en skyfies vir die kinders bedien. Met twee soorte sap. So halfuur daarna word daar ‘n paar groot borde met verskillende eetgoed uitgebring, vir die grootmense. Ja, want die pa’s en die ma’s is ook genooi. Hulle sit elkeen met ‘n drankie in die hand en eet saam. Party gesels met dié wat hulle beter ken. Te lekker. Kort na vieruur word daar begin om op te ruim deur die kelners en almal begin huis toe staan. Partytjie is oor en verby en die ma van die verjaarsdag dogtertjie kan teruggaan na ‘n skoon huis – en vermoedelik ‘n heelwat ligter bankrekening. En ek wonder so in die stilligheid by myself ‘as die derde verjaarsdag nou al so gevier word, hoe lyk dit by sestien, om dan nou nie eers te praat van mondig word nie’ ;-)

Ek het opgeëindig as die aangewysde fotograaf en ek het dit baie geniet. Kinders is seker van die oulikste en interessantste modelle, ongekunsteld en min gepla oor hulle regte, beste profiel. Hier is ‘n paar foto’s:

Roomys lyk SO op mens se mond!

Roomys lyk SO op mens se mond!

Twee van als ;-)

Twee van als ;-)

Kinders moenie in die water mors nie

Kinders moenie in die water mors nie

Of dalk filosoof eendag?

Dalk filosoof eendag?

Die denker

Die diep denker

Moet ek dié koek eet?

Moet ek dié koek eet?

Die verjaarsdag dogtertjie

Die verjaarsdag dogtertjie

 


Filed under: Die Lewe, Sommer net

Feëtjievlerke vlieg veilig

$
0
0

Ag, hulle het nou ook nie heelpad net gevlieg nie, en ook nie op hul eie nie, maar dit klink net so lekker as opskrif ;-)

Saterdag, voor my ekspedisies met suster en kinders, moes ek eers vir my eie kind ‘n draai ry. As mens in die Camdeboo vlaktes van die Karoo bly, dan is daar nie sommer om die eerste blok ‘n “party shop” of so iets nie. Dan is die naaste dorp met ‘n Mall 170 kilometer ver, en dis ook nie eers ‘n baie groot Mall nie. En die naaste stad is 300 km ver. Dan raak sake ingewikkeld as iets buite ‘n Pep Stores of Tuinkafee of Padstal of Kooperasie of Standard Bank of Polisiestasie benodig word. Dan is dit wanneer daar ‘n SOS of rooksein of BBM na ‘n ma in die Kaap gestuur word. Gelukkig IS daar ‘n ma naby “party shops” en Vodashops.

Want anderdag middag laat is daar ‘n noodsein – “Ma, my foon maak so ‘n wit skerm! En wil nie werk as die charger nie heeltyd ingeplug bly nie. En die agterkant wil nie toemaak nie, lyk asof battery opgeswel is.”

Ek weet self nie wat dit kan wees nie, maar gelukkig het sy ‘n spaar foon. Al my ekstra fone kry mos op een of ander stadium ‘n geleentheid Karoo toe. “Gebruik die spaar foon, ek sal more kyk wat ek kan doen.” Ma’s kyk altyd wat hulle kan doen en as hulle nie kan nie of nie weet nie, dan doen hulle in elk geval. Hulle MOET, want God couldn’t be everywhere, so he created mothers :lol:

Ek slaap sleg daardie nag, droom van opgeswelde Blackberry batterye. Toe dit lig word gooi ek ‘n lyn na Google toe. Ek skrik my uit my pajamas toe ek woorde soos “explode in your face” en sulke nare dreigemente sien oor opgeswelde batterye. Terwyl die haan nog nie eers oor die werf in die Karoo kraai nie – o ja, daar is mos nie meer ‘n haan nie, hy het verstik aan ‘n stukkie brood, shame! – bel ek haar nommer en bid net die simkaart is al in die ander foon en ek laat nie nou die Blackberry ontplof nie. Antwoord sy nog deur die slaap, maar ek skree elke stukkie vaak weg; “Sê vir my jy het jou simkaart al in die spaar foon gesit!”

“Neeeeeee ma, nog nie, die foon werk nog as hy op charge is.”

“Haal uit, haal nou dadelik daai simkaart uit, die foon kan ontplof van daai opgeswelde battery! Sms my as jy die simkaart in die spaar foon het. NOU DADELIK!”

Sy het seker groter as ek geskrik, want skaars ‘n minuut later kom die sms. Middagete jaag ek winkel toe, Vodashop toe, vertel die oulike ou agter die toonbank en hy gee my ‘n generiese Blackberry battery, maar dit het darem ‘n jaar waarborg, en ook sommer ‘n nuwe charger, net ingeval die oue dalk ook kan ontplof. Ja, ja ek weet – overkill, maar beter bang as dood. Jaag poskantoor toe, battery en charger toe reeds in bubble koevert, vra die tannie agter die toonbank wat is die vinnigste pos, want dis chroniese medisyne. (Ek dog toe ook iemand sal dalk nog foon goeters steel, maar darem seker nie iemand se medisyne nie.) Sy beveel hulle spoedpos aan – dit vat toe REGTIG net ‘n dag en ‘n nag. Sy help my woerts-warts en daar gaan die Kaap se winkelgoed Karoo toe.

Megan sê; “Jinne ma, jy moet hoop daar is nie ‘n druggie iewers op die poskantoor se pad nie, dan steel hy dalk nog my ‘chroniese medisyne’!” Ag hel, ek kan ook nie voorsiening maak vir elke gebeurlikheid nie – dink net hoe de hel in gaan die druggie wees – hy sal maar aan die battery moet snuif of suig!

Maar hier wil ek net vir ‘n oomblik afwyk – mense kla so baie en vertel nie altyd van goeie dinge en goeie diens nie. Ek wil ons SA Poskantoor regtig vyf sterre gee – ek pos al vier jaar lank pakkies vir my meisiekind, en NIKS het nog verlore geraak of geskeur of gebreek anderkant uitgekom nie. Nou het ek hulle spoedpos ontdek – wat WERKLIK oornag pos is, kos omtrent so R60 vir ‘n redelike groot pakkie. Hulle belowe dat dit selfs na Kooitjieslaagte in die verre Wilde Weste niks langer as ‘n dag en ‘n nag en nog ‘n halwe dag sal vat nie, as mens dit vroeg die oggend al stuur. Ek glo hulle. Dalk was ek nog net gelukkig, maar dankie aan die Poskantoor! Ek sien hulle het deesdae ook nogal weer wit omies en tannies agter die toonbanke –net so tussen my en jou gesê.

Anyways, die ‘chroniese medisyne’ het toe my kind gered van ‘n plofbare situasie. Donderdag laasweek kom daar weer ‘n noodsein – “Ma, ek moet vo-o-o-olgende Saterdag vir J ‘n ooievaars partytjie gee en hier is nêrens feëtjievlerke nie. Ek wil haar opmaak soos ‘n ‘pregnant fairy’. Kan jy nie asseblief by daai ‘party shop’ in Bellville gaan kyk vir feëtjievlerke nie en dit vir my pos, ek sal betaal.” “Mmm, ek sal gaan kyk, ja.”

Nou wonder ek klaar, hoe pos mens feëtjievlerke. Saterdagoggend vroeg is ek by die partytjiewinkel. Ek koop feëtjievlerke. Maar eers moet ek foto’s neem en dit bbm, om seker te maak ek koop die regte ding.

Feetjievlerke

“Ma, neem bietjie vir my af wat is daar nog in die winkel wat mens kan gebruik vir so ‘n partytjie.” Ek loop deur die winkel en neem foto’s en praat met myself en bbm foto’s. Wat ‘n wonderlike ding is tegnologie nie – al lyk ek soos ‘n mal vrou wat met haar hand loop en praat. Ek eindig op met vlerke, servette, ballonne, lint en ‘n banier. Want NIKS van dit is in enige winkels in die verre Karoo nie ;-) Daarvan word ek verseker.

Banner en lint

 

 

 

Servette

 

 

 

 

 

 

 

 

Balonne

 

 

 

 

 

 

 

Toe kom Maandag en ek moet uitfigure hoe kry ek die vlerke gepos. Daar is nie ‘n boks wat groot genoeg en plat genoeg is nie. Ek kry ‘n brainwave – vat die grootste bubble koevert in die winkel. Daai vlerke skuur-skuur so in daai koevert in, ek druk ‘n bietjie links en ek druk ‘n bietjie regs en ek wikkel voor en ek wikkel agter en ek squeeeeze (indruk klink nie dieselfde nie) daai vlerke in daai koevert in dat daar nie plek vir ‘n polonieskil is tussen die koevert se kante en die vlerke se kante nie. Baie versigtig kan ek darem die res bo op die vlerkies inskuif en daar gaan ek poskantoor toe. Dié keer kan ek wragtig nie lieg en sê dis medisyne nie, dis heeltemaal te groot en plat. So ek vertel die omie agter die toonbank dis feëtjievlerke. Ek gee hom al die krediet, hy het my nie eers effens skeef gekyk nie, hy het net so mooi en versigtig daai koevert in die poskantoor se rooi sak ingeskuif – weer eens pas dit net-net. Toe skryf hy ewe mooi bo-op “DO NOT BEND”. Ek vermoed hy het ook dogters en weet van feëtjievlerke.

Nou ja, eind goed als goed – die feëtjievlerkies was Maandagaand in PE en Dinsdag in die Karoo – veilig gevlieg en goed geland. Nou wonder ek wat is volgende ;-)   :lol:


Filed under: Die Lewe, Sommer net

Daar’s ‘n wind wat waai

$
0
0

Hy waai my hier en hy waai my daar, hy waai my kop sommer deurmekaar.

Wie skryf nou oor die wind wat waai? Maar hy waai darem nou wragtig al te lank! Dis nie ‘n onderwerp om oor te dig of liries oor te raak nie. Dis ‘n lastige ding wat verduur moet word. Veral as mens in die Kaap woon. Hier kry jy Suidoos saam met jou babamelk in.

Van kleinsaf sien jy hoe Van Hunks en die duiwel hulle pype stook en Tafelberg toe rook. Dan weet jy. Hou jou roksak toe. Hou jou roksak, broeksak, sysak, hou die hele lot toe. Want die wind lig alles wat kan lig, rokke oor koppe, hoede van koppe af, mense van fietse en motorfietse af.

Alles wat beweeg lyk naderhand soos vraagtekens, krom gewaai. Tot die voëls vlieg een vlerk vorentoe en twee vlerke dwars. Dis nou AS hulle dom genoeg is om te probeer vlieg.

Die weer mense sê hierdie jaar waai die wind erger as ander jare. No kidding! Seker ook oor die gat in die osoonlaag. Daai gat maak ‘n trek. Mens weet mos wind trek erger deur ‘n plek as daar deure of vensters aan teenoorgestelde kante oop is. So, dan is daar seker ‘n gat bo EN onder in die osoonlaag.

En die brande! Dis asof daar iewers ‘n vonkie sit en wag vir daai wind om net lekker op dreef te kom. Dan is die partytjie aan. Die vuurgod en windgodin wals en tango en trap ‘n riel dat die rook so draai. As dit nie so verwoestend was nie, sou die vuurdans iets aanskouliks kon wees. Maar die skoonheid gaan verlore in die wreedheid van wind-en-vuur-vernietiging.

Daar is niks waarteen die mens so nietig staan soos teen die Natuur nie. As die dakplate kraak, die houtdeure sug, die vensterrame kreun in die wind, of as die veld knars in die vuur, of die riviere oorvloei in die reëntyd, is ons NIKS. Dan vat die aarde maklik terug wat ons dink ons mak gemaak het.

Die wind waai waar hy wil. Die Natuur is sy eie Baas.


Filed under: Gedagtes

Geweld het geen spesifieke gesig nie

$
0
0

Daar het weereens iets verskrikliks in die wêreld gebeur, en ek sê wêreld en nie net Suid-Afrika nie, want Oscar Pistorius is wêreldwyd aangehang en vereer. Hy was nie net die wêreld se bekendste gestremde atleet nie, hy was ook verlede jaar die “plakkaatgesig” van die Olimpiese EN die Paralimpiese Spele in Londen. Hy is ook wêreldwyd die gesig van advertensieveldtogte van sommige van die bekendste internasionale maatskappye. Hy het borgskappe van miljoene rande. En nou is hy heel moontlik skuldig aan moord. Die twiets en die woorde vlieg deur die lugruim soos konfetti wat gestrooi word. Baie mense glo hy is onskuldig.

En dan is daar ander. Volgens sy eksmeisie was hy ‘n opperste rokjagter en tydens hulle verhouding was daar reeds voorvalle van geweld en het hy haar belowe hy sal vir sielkundige hulp gaan, maar hy het toe nooit. Ander mense spoeg vuur oor hierdie woorde en sê sy wil Oscar nou net slegmaak.

Wat is die waarheid oor wat in die oggendure van 14 Februarie in Oscar se huis gebeur het? Net Oscar en die oorlede Reeva sal weet. Maar kom ons kyk na die feite, wat geen mens kan wegredeneer nie.

Die meisie is deur ‘n toe badkamerdeur geskiet. Vier keer. Enige redelike mens kan vir homself uitwerk dat dit geen ongeluk van watter aard ook al kon wees nie. As hy haar dalk aangesien het vir ‘n inbreker, sou sy tog uitgeroep het na die eerste skoot. Enige redelike mens gee ‘n waarskuwing voor hy net skiet. As sy agter ‘n toe deur was en hy het nie geweet dis sy nie, was sy lewe nog steeds nie in onmiddelike gevaar nie. Hoekom dus net skiet? En hoekom VIER keer skiet? Dan bring ek nie eers die feit by dat die sekuriteit reeds vroeër die nag by sy huis was oor die bure gekla het oor ‘n geraas en stryery daar nie.

Dit klink vir almal wat Oscar as held vereer het, amper onmoontlik dat hierdie man sy meisie willens en wetens kon doodskiet in ‘n woedebui. Maar wat weet ons regtig van wat in ander mense se koppe en huise aangaan? Dit wat ons sien en dit wat is, is soms twee totaal verskillende waarhede.

Dink net hieraan:

Daardie ‘godvresende’ man wat agter toe deure sy vrou skop en slaan, net mooi op die regte plekke sodat daar geen merke wys nie en die vrou doen mee daaraan om hom daarmee te laat wegkom, want sy is te skaam om dit openbaar te maak. Of nog te lief vir hom, of nog te seker daarvan dat sy hom sal kan verander, of dat sy net moet verander dan sal hy ophou. Min wetend dat sy besig is om met elke aanranding nog ‘n stukkie van haarself te verloor, tot daar uiteindelik niks gaan oorbly nie, dood of lewendig. En niemand wat hom buite sy huis se vier mure sien, sal ooit kan droom dat hy so iets doen nie.

Die hooggeagte lid van die samelewing wat snags sy dogter se kamer binnesluip en haar seksueel molesteer, om more iewers in ‘n vergadering of kantoor te sit waar almal na hom opsien en dink hy is te wonderlik vir woorde. En die dogter bly stil, want haar pa het haar tot stilte gesweer en haar laat glo dat niemand HAAR sal glo nie.

Ek kan aangaan en aangaan en ek is seker soos julle hier lees, kan julle aan meer as net twee voorbeelde dink waar die gesig wat ons in die openbaar gesien het, dié van ‘n engel was, maar wanneer die deure toegaan en die wêreld buite is, het die duiwel kom dans op die maat van sy naastes se smeekroepe van pyn. ‘n Duiwel wat so sjarmant is wanneer hy buite sy eie kring beweeg, dat ieder en elk dink dis ‘n stralekrans wat om sy kop hang.

Ek sê nie Oscar is skuldig nie, ek kan nie daardie oordeel oor hom uitspreek nie, want ek het nie al die feite nie. Maar die bietjie feite wat ek reeds van weet, spel vir my iets wat NIE na ‘n ongeluk lyk nie. Sukses, roem, ‘n aantreklike gesig of ‘n vooraanstaande plek in die gemeenskap maak nie noodwendig van iemand helde-materiaal nie. Geweld het nie ‘n spesifieke gesig nie. Mense is feilbaar en die gesig wat die wêreld sien en aanbid, is baie keer net ‘n masker. Daarom het ek nie helde nie. Ek respekteer mense en hul sukses, maar dis waar dit ophou.

Ek is uit my diepste binneste jammer vir die meisie wie se lewe so jonk kortgeknip is, dalk doodeenvoudig omdat sy die verkeerde man liefgekry het. Want as dit is hoekom sy vandag dood is, dan is sy by verre nie die enigste een nie. Daar kan boeke vol geskryf word met die name van mense wat verkeerd liefgekry het en nooit die duiwel agter die engel gesien het nie en ook nooit betyds padgegee het nie. En dan is daar dié wat wel betyds padgegee het, maar vir die res van hulle lewe die merke dra van iemand anders se waansin. As ‘n vrou een keer deur ‘n man mishandel is, dra sy dit vir die res van haar lewe saam met haar, ongeag hoe goed sy genees en hoe in beheer sy daarna van haar eie lewe is. Dit is nou dié wat oorleef om te onthou. Want jy vergeet NOOIT nie.

Ten slotte:

We need to teach our daughters the difference between…

A man who FLATTERS her and a man who COMPLIMENTS her

A man who SPENDS MONEY on her and a man who INVESTS in her

A man who views her as PROPERTY and a man who views her PROPERLY

A man who LUSTS after her and a man who LOVES her

A man who believes HE is GOD’S GIFT to women

and a man who remembers a WOMAN was GOD’S GIFT to MAN

And then, most importantly…

We need to teach our SONS to be that kind of MAN.


Filed under: Die Lewe

Waar my wasgoed son vang

$
0
0

Op 14 Februarie “tag” Maankind my om my wasgoedlyn/draad te wys, maar toe gebeur so baie dinge dat ek amper vergeet. Wel, eerder laat as nooit.

Ek het baie laat in my lewe eers ‘n wasmasjien gekoop. Toe my kinders klein was, het ek doeke in ‘n Steri-Nappy emmer gegooi en daarna met die hand gewas. Dit was voor weggooidoeke. Wel, daar was weggooidoeke, maar dit was regtig net vir spesiale tye, soos vakansies en ver ry.

Om wasgoed te was, was (is) altyd vir my half terapeuties. Jy hoef nie vreeslik te dink nie en kan eintlik jou kop op allerhande ver paaie laat loop. Deesdae het ek ‘n fensie toploader en ek hoef maar net kleure te skei en in te gooi, waspoeier en versagmiddel in die gaatjies en ‘n paar knoppies te druk en die res is nie my probleem nie.

Maar vir my is wasgoed ophang nogal ‘n ritueel. Hou in gedagte dat ek nie stryk nie en sover moontlik ook nie klere koop wat nodig is om gestryk te word nie. Ek loop dus met my mandjie gewaste klere wasgoeddraad toe en daar begin my OCD ;-)

Die agterste draad is vir beddegoed en kussingslope. Die middelste draad is vir onderklere en sokkies en die voorste draad is vir hemde, rompe en langbroeke. As daar nie beddegoed is nie, dan is die agterste draad vir die onderklere en sokkies.

20130215_180200

Goed wat pare is, word altyd reg langs mekaar opgehang. Soos dieselfde kussingslope of ‘n paar sokkies. Elke sokkie word by die hak gevat en behoorlik uitgeskud en dan aan die bokant van die enkel deel opgehang.

Elke hemp word onder die arms vasgesteek, sodat daar nie pennetjie merke aan die onderkant is nie. Elke broek of romp word aan die bokant (die middel gedeelte) vasgesteek met drie pennetjies. Een op elke naat en een in die middel.

Elke kledingstuk word ordentlik uitgeskud en baie presies opgehang, sodat dit so min as moontlik plooie of kreukels in het agterna. Elke stukkie wasgoed word ook so van die draad af netjies opgevou en in die emmer gesit. Van daar gaan dit dan rak, kas of hopie toe.

En terwyl ek nou so heen en weer tussen my drie drade loop, is dit my uitsig:

20130215_180143

Of dit:

20130215_180225

 

En soms speel Kattie so bietjie tussen die wasgoed deur

20130215_180308

 

En in die winter gebruik ek wel my tuimeldroër – ek maak elke aand my handdoek warm daarin voor ek gaan bad, want ek doen nie goed met koud kry nie. Verder sal ek net as dit reën die tuimeldroër gebruik, en elke bietjie winterson gebruik om my wasgoed droog te kry. Baie keer sal ek dit wel van die draad af vir so ‘n paar minute in die tuimeldroër gooi, net vir daardie ekstra bietjie droog en warmte.

Fluit fluit, my wasgoed storie is uit. O ja, NET ek hang my wasgoed op. Nog al my lewe lank.


Filed under: Sommer net

My eerste veeveiling

$
0
0

Verlede week kuier ek (al weer) in die Karoo. Ek begin al hoe meer vermoed dat ek dalk eendag daar sal kan aftree. Ek sal nie die see sodanig mis, soos wat ek die Berg sal mis nie, maar gelukkig weet ek die Berg is altyd daar.

Elk geval, Donderdag is my laaste dag daar, die aand sou ek weer met die InterKaap bus terug ry. Ek moet sê, hierdie keer was dit ‘n heel aangename rit terug. G’n niks nonsens by weegbrue nie en ‘n oulike waardin en bestuurder. Asook ‘n splinternuwe enkelvlak bus. En genoeg spasie.

Maar eers is daar Donderdag ‘n veeveiling op die een plaas in Aberdeen. Nie ‘n bankrotveiling nie, ‘n produksie veiling. Dis nou as oorskot vee opgeveil word om kontantvloei te verbeter en so aan, word ek ingelig. Dit word so twee keer ‘n jaar gehou. Eers dink ek om eerder by die huis te bly, wat wil ek nou by ‘n vervelige veiling gaan maak. Maar omdat dit my laaste kuierdag is, word ek oortuig om saam te gaan. Ek maak my gereed vir ‘n stowwerige, vervelige tyd, maar ek word aangenaam verras. Stowwerig is dit toe inderdaad. Vervelig? Glad nie!

Skape

Beeste

Die veiling word geopen met gebed. Dis maar ons boere-maniere :-) Die man wat die veiling open praat mooi. Ek het dit ge-video, maar moes toe my oë toemaak :lol:

Hierna begin hulle met die skape. Meesal ooilammers. Ek het natuurlik met my ore so op die grond langs geloop en gehoor dis hoë kwaliteit skape / lammers en van dié wat die vorige jaar opgeveil is, se wol het toppryse behaal. Die manne wat die vorige jaar skaap gekoop het by die veiling, is dan ook terug om weer te koop. My mond hang oop vir die afslaer – die eerste keer in my lewe wat ek een in “real life” hoor praat. PRAAT?! Nee, ek weet nie of mens daai praat kan noem nie. Ek vang net so hier en daar ‘n woord. Verder klink dit so iets tussen Grieks en Alien. Rieng-tieng-tieng-kwaraa-warra-wham.

Skaapveiling

Dis warm, maar die boere bie en koop en haal hul hoede en kepse af en vee sweet af. En maak sommetjies op stukkies papier en fluister in mekaar se ore. Dis vir my ‘n ander wêreld. En dit tref my – hierdie mense hier is die sout van ons aarde, ons land. Hulle sorg dat ons kos op ons tafels het – dié van ons wat nou vleis eet. Maar daar is ander soos hulle, wat met groente ook boer. Dis manne met harde hande, manne wat ken van werk, al het hulle plaaswerkers ook. Manne wat in stof en son, wind en reën, ‘n bestaan moet maak. Ja, hulle ry met hoë Toyotas en Isuzus en dies meer, maar nadat ek laasweek gesien het hoe lyk party van daai paaie, verstaan ek dat dit al voertuie is wat hulle met veiligheid kan ry. Die munisipaliteite moet die paaie skraap, maar hulle doen nie.

Boere

Dit tref my ook dat hulle nog meestal wit is. Ek staan nader aan een ouer man en begin gesels. Ek vra so terloops hoe gaan dit met grondhervorming in daai omgewing en ek hoor van twee vooruitstrewende plase wat oorgegee is. Op die een is die regstellende boer nou al besig om die windpompe te verkoop. Op die ander is nog net een van die vyf wat die plaas saam gekoop het, oor om te boer. ‘n Ou swart Mama, wat haar bes probeer om die boerdery aan die gang te hou. Twee van die mans het weggeloop, die ander jonger vrou is terug PE toe en die een man wat oorgebly het, is meestal dronk. Hy vertel vir my dat hulle ander boere wel hulp aangebied het, maar die regering het dit van die hand gewys. Ek wonder wat gaan van ons plase word as dit is hoe hervorming gaan lyk.

Na al die skape opgeveil is, beweeg ons terug na die skuur. Nou kom die beeste aan die beurt. Daar is nie soveel beeste as skape nie en ook meestal kalwers. Ons gaan sit binnekant – dis amper soos ‘n klein kring waar boksers boks. Die beeste word ingeja en ek kry hulle so jammer. Hulle raak soms verbouereerd en maal rond, veral as hulle na die tyd weer uitgejaag word, in die drukgang terug kraal toe.

Die beesveiling is gou verby en dan staan almal kospotte toe. Want ja, daar word geëet ook. Hoe sal ons mense dan nou NIE eet nie ;-) ‘n Nabye hoërskool se koshuiskombuis is die spysenier. Ons eet lasagne met groenslaai en ‘n broodrolletjie. Verder is daar blikkies koeldrank. Nou kuier die boere eers ‘n bietjie. Vir baie is dit die hoogtepunt van die maand, of dalk die kwartaal. Daar word oor en weer gesels. Nuwe kleinkinders word gewys. Ja, die boere kom nie alleen veiling toe nie. Hul bring hule vrouens en kinders en kleinkinders saam.

Kinders en kleinkinders

 

Darem nou nie almal nie. Ek kom agter daar is die ernstige kopers. Hulle het alleen gekom met hulle trokke om die vee in terug te vervoer. En dan is daar die kykers. Hulle het sommer net gekom om sosiaal te verkeer, om te “spy” vir hoeveel het die boertjie se vee verkoop en om die nuutste ander skindernuus te hoor. Ongeag, dit word ‘n lekker kuier so saam-saam. Ek kuier saam en niemand vra of wonder van wat se plaas af ek kom nie, want daar is mense van Murraysburg en Cradock en selfs so ver as Vredendal.

Teen laatmiddag begin die skuur leegloop. Die kospotte word opgepak en die ys-emmers vir die koeldrank word uitgegooi. So een-een vertrek die kykers. Intussen het die kopers ook gaan betaal en hul vee begin laai om die pad huis toe aan te durf. Ek kyk om my rond en ek weet – hierdie is my mense, my land, ongeag.

trokke gelaai

September is daar glo weer ‘n veiling. Ek dink ek sal my dinge so reël dat ek weer daar kan wees ;-)


Filed under: Die Lewe

Wanneer vriendskap faal en die dood ons inhaal

$
0
0

Ek loop meer as ‘n week hiermee. Sal ek hieroor skryf of sal ek nie? Dit sny so na aan die been en so baie mense (lees familie) lees al hier. Maar dit wil my nie los nie en al hoe ek gaan vrede maak, indien ooit, is om dit uit my uit te skryf.

Laasweek Donderdagoggend, daar by die veeveiling in die Karoo, lui my selfoon. Ek stap eenkant toe, uit die stof en geraas. Dis ‘n vriendin. Let wel, dis nie haar ma wat my laat weet nie. Haar ma, wat my ma se suster is.

“A is vanoggend oorlede.”

Ek hoor eers nie mooi nie en druk my een oor toe. Ek het gehoor iemand is dood, maar kan op daardie oomblik glad nie dink wie nie.

“Ekskuus? Wie?”

“A. A!”

Dit word grafstil binnekant my. So, dis nou finaal te laat. Te laat om te gaan groet. Te laat om heeltemal te gaan regmaak. Al het ek nie werklik verkeerd gemaak nie.

“Dankie dat jy my laat weet het. Ek is op die oomblik in die Karoo, maar is vanaand oppad terug.”

Ek beëindig die oproep en staan en staar na die stof en die skape. Sal ek of sal ek nie? Die dood vee tog verskille uit. Of hoe? Sy en haar ma en haar dogter was tog by my ma se begrafnisdiens.

Ek druk die knoppie en dis eers beset. Ek bel my suster.

“Het jy gehoor? A. is vanoggend oorlede”

“Nee! Gaan jy bel?”

“Ek weet nog nie. Gaan jy?”

“Ja.”

“Laat weet my wat sê haar ma.”

Ek staan weer en staar in die stof en loop stadig terug na waar die ander mense staan. Dan draai ek om en loop weer weg, eenkant toe, waar een verlate boom staan. Ek gaan staan onder die boom en druk weer die knoppie. Hierdie keer lui dit en my tannie antwoord.

“Ek is jammer om te hoor van A.”

Sy herken my stem. “Dankie. Maar dis beter so. Die laaste ruk was die kanker so erg, sy was heeltyd op morfien.”

“Sterkte daar. En sê vir E ek dink aan haar, dis bitter jonk om mens se ma te verloor. Laat weet asseblief wanneer is die begrafnis. Ek is nou in die Karoo, maar ek is more terug by die huis.”

“Goed, ek maak so.”

Ek het haar op haar woord geneem. Daar was ‘n tyd wat ek en A soos bloedsusters was. Eintlik nader aanmekaar nog as bloedsusters.

Ek onthou hoe sy teen haar man se wil vir my kom kuier het by my groot huis in Gordonsbaai. Haar man het geweier om soontoe te kom, omdat ek ‘n kleurlingmeisie as loseerder gehad het. Ja, dis hoe hy rol.

Ek onthou hoe sy haar gat aan hom en sy vooroordele afgevee het en hoe ek en sy een aand gaan verjaarsdag hou het  saam met die kleurlingmeisie. En daar is baie ander stories wat ek onthou.

Ons het almal geweet haar dwis van ‘n man het dwalende oë en hande. Sy ook. Ek het baie keer so skuinsweg gevis hoekom sy hom nie skei nie. Maar sy het my nooit ‘n klinkklare rede gegee nie. Hulle het ook geen geheim daarvan gemaak dat hulle huwelik nog net in naam bestaan nie. Oor die hoekoms en waaroms en hoeveel sy geweet het en die bepiegelinge oor ‘n kind by ‘n ander vrou het ons nooit gepraat nie. Ons het net saam gekuier en gelag en soms geskinder oor die ander familie. Sy het haarself verloor in haar werk, haar musiek, haar boeke en om gereeld op nuwe plekke te gaan vakansie hou.

Toe tree hy oor die streep en teiken my. Ek was eers gewalgd en later het ek gesorg dat ek nooit eers alleen saam met hom in ‘n vertrek is nie. Soms het dit fyn voetwerk gekos. Soms het hy grappies met my gemaak in almal se teenwoordigheid en moes ek glimlag, terwyl ek eintlik wil kots. Ek het ook geweet dit gaan nie oor my per se nie, dit gaan bloot daarom dat ek ‘n vrou is. Ek dink die enigste iets met bene wat hy nie sou teiken nie, was ‘n tafel. En glo my vry, hy was geensins ‘n ‘oilpainting’ nie, soos my ouma sou sê. Nie dat dit ‘n verskil sou maak nie, maar die arrogansie van so ‘n man wat dink daar is iets met jou fout as jy NIE wil saamspeel nie.

Een aand het ek daar oorgeslaap. En is in die middel van die nag wakker gemaak. Na ek gedreig het om kliphard te gil, is ek uitgelos. Dit was die laaste strooi. Ek het net heeltemal begin wegbly. Intussen het my ma in sy woonstel gebly. Dis kort voor haar Alzheimers gediagnoseer is. Toe gee hy haar kennis. Ek was blind van woede en sonder om te dink, het ek die foon opgetel en my tannie gebel en haar die waarheid vertel. Haar antwoord: “Ek wil nie hierby betrokke wees nie. Hy is baie goed vir my en ek gaan nie inmeng in hulle huwelik nie.”

Ek was nog meer kwaad. For crying out loud! Dit is haar dogter met wie hy so mors. Dit is haar suster wat hy uit die woonstel geskop het. Toe bel ek A self, maar haar selfoon het oorgegaan op voicemail. Toe los ek ‘n boodskap; “As jy wil weet hoekom ek nie meer by jou huis kom nie, bel my, of vra jou ma. Ek het haar die waarheid vertel, maar sy wil nie daarmee gepla wees nie.”

Sy het my nooit teruggebel nie. Ek het later spyt gekry en gedink ek moes die oproep eerder net nooit gemaak het nie. En ek het vir baie maande nie weer na haar huis toe gegaan nie. As sy net gebel het en gesê het sy weet hy is ‘n dwis en ek moet my nie steur nie. Maar sy het nie. Sy het net stilgebly. En ek het ook net stilgebly.

Toe hoor ek by haar broer dat sy kanker het. Dat sy borskanker gehad het, maar dat dit nou versprei het in haar bene in. Sy het my nooit eers dit laat weet nie. Dié keer het ek my laaste greintjie moed bymekaar geskraap en na haar huis gery, in ‘n tyd wat ek geweet het hy sal nie daar wees nie. Haar ma het vir my oopgemaak en opgetree asof niks ooit gebeur het nie. Hoe vee ons goed nie onder die mat in nie.

A ook. Sy het my gegroet asof ek die vorige dag laas daar was. Ek het gekuier tot dit amper tyd was dat hy sou huis toe kom. My laaste woorde aan haar was: “Bel my, dan kom haal ek jou om by my te kom kuier.” Want sy kon nie meer self bestuur nie en het moeilik geloop.

Sy het my nooit gebel nie en in die maande daarna het my ma se siekte my fokus geword. Nie dat ek nie aangegaan het met my lewe nie, maar ek het bloot nie nog kans gesien vir iemand anders se pyn ook nie. My fout.

Met my ma se begrafnisdiens het ek haar weer gesien. Ek het myself stil geskrik. Daar was nie eers die helfte van die mens oor wat sy was nie. Maar sy het die moeite gedoen om te kom. Ons het ‘n lang ruk mekaar net vasgehou en na die tyd gesels oor simpel goed, asof daar nog jare se kuier voorlê.

Daarna het ons mekaar nie weer gesien nie. Ek het haar een of twee keer gebel, maar sy het nooit teruggebel nie. En laasweek is sy dood.

My hart is seer oor ‘n vriendskap wat gefaal het. Maar my hart is seerder oor die vark dit reggekry het om my nog by alles van haar begrafnis af ook weg te hou. Sy is selfs uit ‘n heel ander gemeente begrawe, en toe ek die vrou by haar kerk vra hoekom, het sy gesê sy weet nie en sy vind dit net so vreemd. Toe ek en my sus Dinsdag begin navraag doen, omdat ons niks hoor oor die begrafnis nie, moes ons uitvind sy is reeds begrawe.

Ek het haar gefaal in die lewe, en ook in die laaste eerbetoon. Bloot omdat ek nie geglo het mense kan werklik so wraaksugtig wees nie. Ek gaan nog lank hieraan kou. En kou en kou.


Filed under: Die Lewe, Gedagtes

Verraaiers

$
0
0

Ek het gister die nuwe Afrikaanse fliek ‘Verraaiers’ gaan kyk. In jare het ‘n fliek my nie so ontstel nie. Ek het daar uitgestap met oë wat skrefies gehuil was en met ‘n swaar gevoel in my hart. Inderdaad… is vryheid soveel werd?

“Oorlog is waansin, en verraad is ’n gebroke woord.” “Verraad kry ‘n ander betekenis elke keer as jy uit ‘n ander oogpunt daarna kyk.” – Dis van die woorde wat ek sal onthou. Ook “Die eintlike verraaiers is hulle wat nie kan erken dat hulle verloor het nie…  wat God wil speel met ’n mauser in die hand.”

En dan die jong Van Aswegen se bitter woorde: “Voor elke veldslag bid ons in Afrikaans en hulle in Engels. Ons bid tot God om hulle te wen. Die Engelse bid tot God om ons te wen. As ons wen, is dit deur God se toedoen. Maar as ons verloor, was dit die oormag, of een of ander verskoning, maar nooit, o nooit nie, dat God dalk sy Engelse kinders se kant gekies het nie”. Wat antwoord mens daarop? Want in oorlog is daar nie regtig wenners en verloorders nie. Nie op die slagveld nie. Daar is net slagoffers en die wat bly lewe met die littekens van dit wat hulle ervaar het en gesien het.

Vir die eerste keer het iemand die moed gehad om die anderkant van die storie te vertel. Die storie wat almal ken, is die storie van die dapper boere wat teen die wrede Engelse geveg het, teen alle verwagtinge in die Engelse oormag weerstaan het, totdat die Engelse begin “vuilspeel” het en die boere se vrouens en kinders in konsentrasiekampe gejaag het en die plase afgebrand het en die diere doodgemaak het.

Hensoppers (en joiners) was vloekwoorde. Mens oorweeg nie eers een van daai twee as jy ‘n stoere, patriotiese boer is nie. Al vrek jou kinders en jou vrou soos diere in ‘n kamp iewers. Om nie eers te dink aan die plaas wat julle saam opgebou het nie. Ons Afrikaners is so trots dat dit soms aan dom-onnoselheid grens.

Hierdie fliek sou nooit die skerm gehaal het in die Suid-Afrika van 50 jaar gelede nie. Toe is Afrikanernasionalisme blink gevryf en opgedis in die naam van ‘ons Volk’. Ek weet ons land lyk nie vandag goed nie, maar hoekom herinner daardie blinkvryf van ‘n Afrikanervolk my so baie aan Hitler? Een ding wat die ‘ou’ en die ‘nuwe’ Suid-Afrika in gemeen het, is dat hulle so maklik die geskiedenis herskryf om aan te pas by die politieke selfbelang.

In ‘Verraaiers’ is die hoofkarakters eintlik die anti-helde. Hulle is ‘n ’n gehate familie. Hulle is ‘henshoppers’. Boere wat besluit het om nie meer deel te wees van die oorlog teen die Engelse nie. Boere wat met hulle kop ‘n rasionele besluit geneem het, omdat hulle toe reeds die skrif aan die muur gesien het vir die Boere-republieke en nie bereid was om hulle vrouens en kinders te offer vir iets wat nie haalbaar is nie. Hulle teken ‘n eed van Neutraliteit en keer terug na hulle plase toe. Duisende van hulle. En toe word daar deur die ander boere besluit om hulle te straf. Wette word oornag verander sodat weiering om te veg nie net meer strafbaar is met ‘n boete nie, maar met die doodstraf. En so speel ons Afrikaners weereens God teenoor mekaar.

Hierdie film laat mens ontnugter agter. Dit pluk jou trotse Afrikanerskap onder jou voete uit en laat jou nadink oor wanneer is dit regtig nodig om oorlog te maak. Dit is so dat elke volk wil vry wees om homself te regeer, maar op watter punt trek jy die streep teen veg vir daardie vryheid of ingee vir vrede. Die film is in wese nie net oor die ABO nie, maar ook oor die fyn lyn tussen ‘reg’ en ‘verkeerd’. Soos die een burger tereg vir Genl de la Rey sê: “Verraad lyk elke keer anders uit ‘n ander hoek uit. Ek is ‘n burger van die Kolonie en ek is op die oomblik besig om verraad te pleeg omdat ek hier saam met julle veg. Maar tussen julle is ek ‘n gerespekteerde persoon.”

Die boek is gebaseer op ‘Boereverraaiers’ geskryf deur Andrew Blake. Ek het vandag die boek vir my gaan koop, want ek wil meer weet hieroor. Laat ek dan nou maar enduit gaan met hierdie wond, hom oopsny tot op die been.

Natuurlik gaan hierdie film omstrede wees en daar sal stemme wees wat uitroep ons Afrikaners word alweer verneder. Hierdie is nog (na al die jare) steeds ‘n rou deel van ons geskiedenis. Die Engelse was bliksems, ja. Maar hoeveel vrouens en kinders kon ons boere gered het as hulle minder hardkoppig was? Kon die geskiedenis nie dalk heel anders gelyk het nie? Ons het in elk geval die Anglo-Boere oorlog verloor. Wat as…

Maar dis nou te laat. 110 jaar te laat. Dalk is dit net nie te laat om te leer dat daar dalk ook ‘n standbeeld moes wees vir die man wat sy familie bo sy land gestel het nie. Ons Afrikaners wat almal vandag oorsee sit oor die nuwe Suid-Afrika lyk soos wat hy lyk, is hulle nie ook Hensoppers nie? Moet hulle nie ook aangekla word van hoogverraad nie, gemeet aan die standaarde van 1902 nie? Of het hulle die reg gehad om hul vaderland te verlaat en “die wapens neer te lê” ter wille van hul gesinne se veiligheid?

Ons wat agterbly, mag hulle nie kritiseer nie, want hulle het gekies wat hulle gedink het die beste vir hul families is. Ons veg voort hier, en soms word ons ook vertel ons veg teen ‘n oormag. Maar ons glo ons kan wen. Dit gee ons nie die reg om hulle wat nie saam met ons glo, dood te maak nie. Of doen dit?


Filed under: Die Lewe, Gedagtes

Bitch Blog

$
0
0

Voor ek begin bitch, daar was darem ‘n paar ligpunte in my week. Ek swem weer na drie weke – twee weke se hoes en proes en een week se Karoo, nie noodwendig in daai volgorde nie. En gisteraand het ek ‘n broodjie gebreek saam met die nice-ste, eks-donkie-tans-vosperd, ondomineeste dominee (sorry Vossie, ek kan nie link na jou blog toe nie, ek tik op my Tablet en wetie hoe om dit hier te doen nie). Dit was nou nie regtig ‘n broodjie nie, meer ‘n lekker kerrie en rooiwyn.

Die arme Vossie is gister beroof langs die pad, toe sy ysterperd se ‘fuse’ geblaas het. So, sy foon is afgestaan aan die voorheen benadeeldes. Ek skaam my vir die Kaap! Om darem ‘n man se enigste kommunikasie middel te distributeer (vieslike anglisisme, ja, vir ‘n vieslike daad) terwyl hy gestrand langs die pad staan, DIT is nou laag daal tot ‘n nuwe vlak vat!

En toe seg onse uwe leier vandag of gister ons bly in ‘n stabiele, veilige land, of so iets. En ons moenie sê misdaad en geweld oorspoel die land nie. Suid-Afrika is (glo) NIE ‘n geweldadige land nie. Ag liewe fok, fokker, fokste! Ek lief my land met die blindheid van ‘n ma wat haar kinders liefhet, maar werklik! Hierdie land het ‘n sirkus geword, regeer deur narre. En die ‘man op straat’ is die “tightrope”  lopers, die sweefstokartieste, die leeutemmers. En ons hoop vir ‘n vale ons hou ons balans en donder nie grond toe nie, of die leeu byt nie ons kop af nie, want wanneer dit wel gebeur, dan gaan die narre tekere en entertain die skare om hul aandag af te trek van die tragedies wat pas in die ring plaasgevind het.

Ek is nie negatief nie, ek is so positief, ek kon net sowel ‘n kurkprop gewees het. Ek hop altyd weer boontoe, al is die water ook hoe diep. Ek is die silwer wolk om die donker randjie. Maar selfs ek is nie so bleddie blind dat ek nie kan sien wat om my aangaan nie. Suid-Afrika is Interpol se verkragting hoofstad. Ons  misdaadsyfer laat mens steier. Ons polisie sleep ‘n man agter die vangwa aan tot hy dood is. Is dit deesdae te veel moeite om die oortrder net BINNE IN die vangwa te laai?! Ons polisie verkrag vrouens in die selle. Ons polisie! Ek moet eerder verder stilbly, voor iemand of iets my sue.

En toe lees ek nog iets walgliks op ‘n forum op facebook. Iemand het iewers gevra wie onthou nog vir Piet Koornhof en toe antwoord een of ander dwis, ja, hy onthou die grootste (verskoon my taal asb.) meide n$#&@r van alle tye. DIS presies die tipe spesie van die menslike ras wat ek ten alle tye wil vermy, wat my laat standbeelde verkies bo mense. Nee wag, dis die tipe waaroor ek met my kar wil ry, en dan reverse en weer oor ry en dan weer vorentoe weer oor hom ry. Dankie dat ek hier op skerm kan moord pleeg, ten minste sal ek nie nou tronk toe gaan nie. Tensy iemand dalk regtig heen en weer oor die dwis ry. Maar dit sal nie ek wees nie. Nie dat ek sal jammer wees nie. Die arme dwaas het natuurlik nog nooit bietjie historiese navorsing gedoen nie. Ons agter-oupagrootjies het die slawe gereeld bygekom, en nie net met die sambok nie. En moet ook maar nie te veel hoë verwagtinge van ons agter-oumagrootjies koester nie. As oupa op jag was en die bed te koud geword het, het hulle ook so nou en dan ‘n slaaf nadergesleep. Dalk is daar hier en daar ‘n suiwer Ariër wat hier rond dwaal. Maar die res van ons is maar net baie melk met bietjie koffie by. Oompie Piet Koornhof was ‘n onskuldige baba in vergelyking met party ander wit oompies.

Na ek laas Sondag die fliek Verraaiers gaan kyk het, het ek bietjie begin krap in my eie voorsate. Dalk duik daar iewers ook ‘n verstandige nasaat op wat gedink het voor hy oorlog gemaak het. Toe nie. My oupagrootjie was ‘n Kaapse rebel. Sy verhoordatum was glo in Junie 1902. Hy is darem seker gespaar, want hier sit ek vandag. Dalk moet ek trots wees op hom omdat hy vir ‘n SAAK waarin hy glo gaan veg het. Hoekom sukkel ek dan daarmee? Dalk verlaat veglus mens soos wat jy ouer word en verstand kry. ‘n Sagte woord keer die grimmigheid af. En ek kon ook maar goed grimmig raak in my jonger jare. Ek weet darem my oupa aan moederskant het teen Hitler gaan baklei. Skrale troos, maar darem.

Nou ja, ek het seker nou genoeg gebiets. Behalwe dat dit reën. Ek begin klaar sug vir die aankomende winter. En ten laaste, om toe die cherry op die naweek se koek te sit, het my kat nog boonop die  mop van ‘n hondjie op die plaas aangerand. Stupid brak! Ek dink dis net regverdig dat dit nou Vrydag is.


Filed under: Gedagtes

Die ruiter van Skimmelperdpan

$
0
0

Ek tel nie meer die lengtes nie, ek weet dit vat my nou 45 minute om ‘n kilometer te swem. Nou word swemtyd kopskoonmaaktyd, dinktyd, onthoutyd. Dis die vreemdste ding van onthou. As jy jou onthou net laat los, vrye teuels gee soos ‘n perd ;-) dan kom daar flardes van soveel verskillende lewensoomblikke verby galop.

Vanoggend, uit die blouste bloutes van onthou (apologie aan Marita van der Vyver) kom dié woorde oor my galop, met elke swemslag van ‘n arm, “sal daar nimmer ‘n einde kom, altyd maar weer, die galop… die galop… die galop.

Toe ons klein was, het my ma vir ons gedigte voorgedra. Sy het dit nie net voorgedra nie, sy het dit ge”act” en ek was gaande daaroor. Daar was Amakeia en Mabalel en die een van die ‘ewige getinkel in die ou Slamaaierwinkel’ en dan die een wat vanoggend by my kom spook het, nes die afkop man. Ek weet nie waar my onthou gaan krap het nie, ek weet nie hoekom nie, ek kon net onthou van die galop en galop en galop en iets van ‘n afkop man. Alwetende Google het die onthou soos ‘n wolkbreuk oor my uitgestort. Ek sien hoe my ma hierdie vir ons uit”act”. Ek kan “for the life of me” nie dink hoekom sy sulke grusame gedigte vir ons as kinders voorgedra het nie, maar ek kan onthou dat ek onbehoorlik gefassineer was daarmee. Veral met daai wegsterwende galop… galop… galop… En die helder onthou daarvan vanoggend? Dalk is daar iewers iets wat ek moet laat weggalop.

Die ruiter van Skimmelperdpan (A. G. Visser)

Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,
By ‘n draai in die mond van die kloof,
Het ‘n bom in die oorlog ‘n vlugtende man
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof.

Aan die saalboom krampagtig die hande verstyf,
Met ‘n laaste stuiptrekkende krag,
En die bene geklem soos ‘n skroef om sy lyf,
Op die perd sit die grusame vrag.

Met sy neusgate wyd en die ore op sy nek,
Soos die wind yl verbysterd die dier,
Met die skuim in wit vlokke wat waai uit sy bek,
En gespan soos ‘n draad elke spier;

By die huisie verby waar ‘n vrou staan en kyk…
In die afkopding ken sy haar man…
Met ‘n onaardse gil val sy bleek soos ‘n lyk…
Perd en ruiter verdwyn in die Pan!

Wee die reisiger wat daar onwetend kom skuil
Waar bouvallig die huisie nog staan,
En vreesagtig by wyle ‘n nagdiertjie huil
By die newelige lig van die maan!

Want by middernag waai daar ‘n wind deur die kloof,
Waai en huil soos ‘n kindjie wat kerm,
En dan jaag daar ‘n perd met ‘n man sonder hoof…
Wie dit sien, roep verskrik: “Heer, ontferm!”

Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
En dit vlam uit sy neus en sy oog;
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog;

En dan eensklaps van uit die vervalle gebou
Kom ‘n vreeslike skrikbeeld gevaar,
Al die hare orent – ‘n waansinnige vrou
Met ‘n hande-wringend gebaar:

“Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer?
Waarom jaag jy my elke nag op?
Sal daar nimmer ‘n einde kom… altyd maar weer
Die galop… die galop… die galop?!”

Die afgryslike klank – nog gehuil nog gelag –
En die perd met die romp van ‘n man …!
Dis geen plek vir ‘n Christenmens daar in die nag
Langs die pad na die Skimmelperdpan!


Filed under: Gedagtes

Sonder titel van woede

$
0
0

Die post het nie ‘n titel nie. Ek is te kwaad. Ek moenie meer nuus kyk nie. Nee, ek moet tog weet wat gaan in die wêreld aan. Maar soms moet ek eerder nie weet nie!

“Die Welsyn kan maar ons kinders vat. Ons maak net ander.” Ek wil ten hemele uitroep “Here, hoekom?! Hoekom gee jy vir hierdie drek kinders?! Hoekom Here hoekom?!” Kinders wat hulle by weeshuise gaan aflaai. Drie boeties wat niemand weet wie hul ouers is nie, hulle is voor ‘n kinderhuis se deur afgelaai.

Fiela het gesê die Here vergewe jou baie dinge, maar Hy vergewe jou nie die skade wat jy ‘n kind aan doen nie. En tog moet ons vergewe en nie haat nie en nie dat ons vergiftig word deur ons kwaad nie. Maar hoe ver strek vergifnis? Hoe vergewe jy ‘n ma of ‘n pa wat jou en jou boeties of sussies soos ‘n werpsel katjies iewers gaan aflaai het? Nee, diere doen dit nie. Mense doen dit. Aan ander mense en aan diere!

Die nuus vertel van ‘n projek om geld in te samel vir hierdie kinders. Kinders wat weggeneem is omdat hul mishandel word, verwaarloos word. Die nuus wys die mooiste blou-oog dogtertjie. En seuntjies met kieriebeentjies en vuil voetjies. My hart splinter in duisend stukke. As my hart maar shatterproof was.

Hoe maak mens jou kind so seer? Hoe slaan jy jou kind aaneen, tot iets iewers breek? Hoe brand jy jou kind met ‘n sigaret? Hoe gooi jy jou kind teen ‘n muur? En hoekom hoekom hoekom word sulke mense toegelaat om nog kinders te hê. Ons het nie meer doodstraf nie, maar die Here hoor my, dis al wat sulke mense verdien. Die dood. Want hulle is nie mense nie. ‘n Mens het ‘n hart. Jy kan nie DIT aan ‘n kind doen as jy ‘n hart het nie.

Soms het ek nie die guts vir hierdie lewe nie. Of eintlik nie die guts vir mense nie.


Filed under: Die Lewe, Gedagtes

Allegaartjie

$
0
0

Allegaartjie… lê so lekker op die tong. Ek wonder hoeveel mense weet dis die Afrikaanse woord vir ‘n “mixed grill”. Wel, hierdie inskrywing is so ‘n allegaartjie.

Kan ek eers mislik wees en dan positief?

Hoe kry mens dit in mense se koppe om op te hou om alles te glo wat vir hulle opgedis word? Die nuutste (of dalk het ek net nie die 1 777 vorige waarskuwings raakgesien nie) is dat die swartmense nou besluit het daar is te min wit mense in die tronke. Dus moet ons (wit) vrouens ons handsakke toehou, waar ons ook al beweeg, want die swartes gooi goed in ons handsakke terwyl ons nie kyk nie en dan word ons vir winkeldiefstal aangekla en slaap naweke in die tronk en kry ‘n kriminele rekord. For crying in a bucket, already full of tears! Good luck vir ENIGE mens wat in ‘n winkel iets in my handsak gaan probeer ingooi. Want tussen my e-leser, my twee selfone, my beursie wat reeds te klein is vir alles wat ek daarin prop, my sonbril, my leesbril, my pak tissues, my tandestokkies, my kar sleutels EN my spaarsleutels, ingeval ek my karsleutels binne-in toesluit (wat ek darem nog nooit gedoen het nie, touch wood), my huis sleutels – wel, dis wat ek kan onthou, so ‘from the top of my head’ – dan gaan iemand wat nog iets daar ingedruk kry sonder (f&^*n baie) sukkel en sonder dat ek dit agterkom, MOER lucky wees of iets.

Gelukkig hoef mans nie te worry nie, hulle dra nie handsakke nie. Maar hulle sal seker hul broeksakke moet watch. Hoe gaan daai ou liedjie nou weer…. ‘hou jou handsak, broeksak, gatsak, sysak, hou die hele lot toe’. Nou ja, dis amper naweek, moenie dat julle sakke oophang en julle oor die naweek in die tronk moet slaap nie. Dit gaan reën, so dit gaan ‘n koue slaap wees. And you will never be the same again ;-)

Ag nou ja, met al die waarskuwings gaan ek dan nou een van die dae met my handsak onder my arm vasgeknyp, my sleutel soos ‘n geweer voor my uitgehou, al stormende op my kar af en ek duik soos ‘n wafferse Brian Habana binne in my wagtende kar in, terwyl ek oopsluit, my handsak oorskiet na die vloer, my deur toeklap en sluit, aanskakel en wegjaag, alles in een beweging. Formule 1 sal jaloers toekyk vir daai moves! Want moenie luier rondom jou motor nie, anders vang iemand jou dalk. Friggin hel! Ag, on second thoughts, ek dink nie ek gaan meer my huis verlaat nie – bestel sommer alles online. So as julle my sien en my klere pas nou nie meer so lekker nie, dis online gekoop, maar ek kon dit nie voor die tyd aanpas nie. Die tegnologie is nog nie so gevorder dat mens virtueel kan aanpas nie. Tsk tsk.

Op ‘n meer positiewe noot… toe ek vanoggend gaan swem – ek was al ‘n rukkie alleen daar – kom ‘n jong seun met sy gidshond daar aan. Ja, hy is blind. Daar is bordjies by die swembad wat sê geen rook, kos, drank, diere of fietse nie. Wel, ek verstaan van rook, kos en drank (en diere ook), maar die fietse een slaan my dronk. Die swembad is onder dak. Mens moet omtrent ‘n hindernis loop om eventually daar uit te kom. So die ou wat dit regkry om sy fiets daar in te kry – good for him. Elk geval – die outjie het natuurlik toestemming vir sy hond gekry en die hele tyd wat hy geswem het, het sy gidshond doodstil op een plek gelê. Vir my was dit net so amazing dat hy kom swem. En natuurlik was ek nuuskierig om te sien hoe bly hy in sy afgebakende baan, so ek hou hom toe so effentjies dop en sien hoe hy die hele tyd teenaan die rand swem – die onderwyser wat soggens die swemklub afrig het dan natuurlik seker ook daardie baan vir hom gegee. En die outjie SWEM, hoor! Hoe wonderlik moet dit wees, en ook hoe vreesaanjaend moet dit wees, met al daardie geluide om jou, om in die water te kan wees en te swem, terwyl jy nie kan sien nie. Ek het dit probeer doen vanoggend, my oë net so rukkie probeer toe hou. Ek het heel skeef geneuk. Ek haal my hoed af vir daardie kind. Wat nie toelaat dat sy blindheid hom keer om te doen wat hy wil nie.

DIT is die tipe dinge waarmee ek my gedagtes wil besig hou. Nie met allerhande op hol jagery nie. Mag die blinde seun nog vorentoe AL sy drome verwesenlik. Hy weet dit nie, maar dis my wens vir hom. Vandag was hy my inspirasie.


Filed under: Die Lewe, Gedagtes

Om te GLO. Of NIE.

$
0
0

Ek is al so moeg vir die onverdraagsaamheid van mense teenoor mekaar dat ek op my arms wil gaan lê en huil en nooit weer ophou nie. Ek het lank gewik en weeg oor hierdie skryfsel, maar ek gaan nog een keer my siening hiervan (probeer) weergee. Nog een keer my nek op die skavot plaas. En ek doen dit juis ter wille van ‘n vriendin vir wie ek groot agting en respek gekry het in die ‘n kort tydjie wat ek haar ken. Oor die naweek is sy op Twitter amper uitgehaal oor iets wat sy gesê het en dis heeltemal uit konteks aangehaal. Oor geloof.

Wat vir my hartseer is, is dat sy een van die minste “judgemental” mense is wat ek al ooit ontmoet het. Dus is hierdie vir haar en vir almal wat glo of nie glo nie, maar wat weet wat dit is om “to live and let live”.

Ek GLO. Presies hoe en wat ek glo en hoeveel keer ek kerk toe gaan of nie, het NIKS met enigiemand uit te waai nie. Dat ek glo het ook niks met enigiemand uit te waai nie. Hoe ek egter elke dag myself handhaaf teenoor ander mense wat saam met my op hierdie aarde neergesit is, DIT het wel iets met ander uit te waai en daarvoor sal ek staan. Maar ek gaan NIE staan om geslaan te word omdat ek in iets of iemand glo waarin jy en jy en jy NIE glo nie. En moenie my probeer uitmaak vir ‘n idioot omdat ek glo nie, want my IK is darem hier in die drie syfers rond en my Emosionele Intelligensie is na skade en skande ook vandag heel goed ontwikkeld.

Wat my rasend van frustrasie maak, is dat die mense wat NIE glo nie, so gou is om God verantwoordelik te maak vir alles wat sleg is en verkeerd gaan hier op aarde. Hoekom laat God toe dat mense vermoor, verkrag, gemartel word? Hoekom laat God toe dat kinders verniel word? Hoekom dit en hoekom dat. Hoekom, as Hy bestaan, lewe ons nie in ‘n paradys op aarde nie? Ek weet nie, ek het nie die totale antwoord daarop nie, en ek dink nie enigiemand op aarde weet nie. Wat ek wel weet, is dat ons nie op aarde gesit is vir ‘N God as ‘n poppespel nie. Ons het ons eie, vrye wil gekry. En ek sien dit so:

Ouers het kinders. Goeie, ordentlike ouers. En dan neuk een, of soms meer, van daardie kinders skeef. Hy of sy, word ‘n krimineel, ‘n verkragter, ‘n moordenaar. Ons kyk vir die ouers en ons wil hulle kwalik neem. Hoe de hel kon julle so ‘n kind in die wêreld ingebring het?! En die ouers huil en huil, want hulle het die kind net die regte dinge geleer en hulle weet self nie waar het die kind die pad byster geraak nie. Hoekom het hulle kind hierdie verskriklike goed aangevang? Wat het hulle dan verkeerd gedoen? Die wêreld veroordeel die kind, en sommer die ouers saam met die kind. Intussen is die ouers werklik onskuldig. Hulle kan nie staan vir al hul kind se dade nie. Meeste gewone ouers probeer net hulle bes vir hul kinders. Niemand maak tog willens en wetens ‘n krimineel, ‘n moordenaar, ‘n verkragter, groot nie?

So, die ongelowiges wat so gou is om te sê “Kyk wat laat julle God toe om te gebeur. Kyk hoe word mense vermoor in die naam van julle God”, julle doen presies aan God wat mense aan daardie ouers doen. God, as daar een is, het nooit gesê die wêreld is ‘n poppekas en ons is sy poppe nie. Mense gebruik geloof om oorloë te regverdig, om fanatisme te regverdig. My God, die een waarin ek glo, die “Spiritual Being”, waar en hoe Hy ook al is, het my nog NOOIT vertel om sulke kak te gaan aanjaag nie, in plein Afrikaans. Net soos jy nie altyd ‘n ouer kan veroordeel vir sy kind se dade nie, net so kan jy geen Opperwese / Spiritual Being veroordeel vir die mal mense op aarde nie. Ons het die aarde gekry. Wat ons daarvan maak en hoe ons dit en mekaar opdonder, is soms iets om oor te huil. Om te dink as daar ‘n God is, moet hy alles tjop-tjop fix, is om presies te dink soos die kind wat elke keer aanjaag en verwag sy ouers moet dit fix, en dus nooit self verantwoordelikheidsin aanleer nie.

Glo ek aan evolusie? Ja, ek doen. Glo ek in die Bybel? Tot ‘n mate dink ek die Bybel is ‘n riglyn, maar dat mense dit ook heeltemal te letterlik opneem. “A day is like a thousand years, and a thousand years are like a day” staan in die Bybel. Dis dalk die naaste wat ons aan die waarheid sal kom oor die aarde se ontstaan en die tydperk waaroor alles ontstaan het.

Vir dié wat geen toleransie met gelowiges of ongelowiges het nie, vir dié wat so gou is om op die “bandwagon” te spring oor alles wat God dan sodanig toelaat, vir dié wat alles en almal haat wat anders as hulle lyk, dink of glo: hier is vir julle een Bybelversie. Vergun my net hierdie een :-)

Galasiërs 5:14 Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Kom ons veronderstel God is ‘n mite en die Bybel is ‘n feëverhaal, dan dink ek ons kan almal baat vind by daardie een versie uit die feëverhaal. Ek lees in hierdie een versie dat ek ander mense moet liefhê soos myself. Vir my beteken dit doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Respekteer ander soos wat jy gerespekteer wil word. Die fairytale boek het nie voorwaardes gestel in daardie een sin nie. Dit sê nie ek moet NET my naaste wat soos ek dink, glo, lyk, leef, liefhê nie. Daar is nog ‘n storietjie in my fairytale boek – die een van die barmhartige Samaritaan. Daar leer my fairytale boek my dat dit JUIS soms dié mense is wat nes ek lyk, dink en glo wat my in ‘n tyd van nood sal laat lê dat die wolwe my opvreet. Dat dit JUIS dié is wat nie soos ek lyk, dink en glo nie wat sal stop en ‘n hand van hulp sal uitsteek.

Jy en jy en jy hoef nie te glo wat in my fairytale boek staan nie, maar dit sal jou geen kwaad doen om jou naaste lief te hê soos ek hierbo beskryf het nie. En daardie naaste is almal wat asemhaal en op twee bene rondbeweeg, ongeag! Dit sal jou geen kwaad doen om nie te oordeel nie, sodat jy nie geoordeel word nie. Nie deur my God wat jou mite is nie, maar deur ander mense wat jou oordeel, sonder dat hulle weet wie jy is, binnekant in jou hart en siel is.

Mense is gou om goed aan God vas te plak. Om te sê ek glo nie in God nie, want kyk wat laat hy mense doen. Die “deep down basic stuff” wat my God vir my beteken, is hierdie hier bo. En met respek en in mooi Afrikaans… FOK die res!


Filed under: Die Lewe, Gedagtes

Los en vas Vrydag gedagtes

$
0
0

“Never leave your key to happiness in someone else’s pocket and don’t wait on someone else to build your dream life for you. Be the architect and keeper of your own happiness. The more you take responsibility for your past and present, the more you are able to create the future you seek.”

Iemand het dit vanoggend op Facebook gelos. Ek het lanklaas woorde gehoor wat so waar is.

As ek een wens kon kry vandag, net een, dan sou ek wens dat elke dag moet lyk soos dit vandag hier buite lyk. Ek skat die temperatuur is so ‘n gematigde 25/26 grade. Die lug is skoon witblou en daar roer nie ‘n blaartjie nie. ‘n Dag soos heuning, soet, maar nie te soet nie. (Ja ja, ek weet ons het reën ook nodig – dit kan maar in die nag reën, terwyl ek slaap.)

Dis ‘n dag soos hierdie wat my gelukkig en melankolies maak terselfdertyd. Dis die skoonheid van so ‘n dag – dit kom vat hier diep binne aan mens. Dis oor dae soos hierdie wat mense gedigte sal kan skryf. Waaroor N.P. van Wyk Louw geskryf het:

‘Die jaar word ryp in goue akkerblare,

in wingerd wat verbruin, en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word; elke blom word vrug…’

Toe ek klein was, wou ek net groot word. Noudat ek groot is, wens ek die lewe het ‘n terugspeel knoppie gehad. Stukkende speelgoed is beter as ‘n stukkende hart. Verlore speelgoed is beter as verlore lovers. Mens neem die lewe soms nie ernstig genoeg op nie en soms neem mens die lewe heeltemal te ernstig op.

Die lewe is ‘n speeltoneel, maar soms is dit onseker of dit ‘n komedie of ‘n tragedie is. Ek weet ook nie altyd wat my rol is nie. Soms is ek skreeusnaaks, soms is ek die Juliet van Romeo en soms het ek geheel en al my woorde vergeet. Selfs vergeet in watter toneel ek speel. Dan kyk ek van bo af en sien myself, ‘n lewe geleef, halfpad verby, en ek wonder hoe ander daarna kyk. Maak dit saak? Uiteindelik nie meer nie.

“Non, je ne regrette rien.” Of dalk tog een. Dat dit my so lank geneem het om te weet dat die sleutel van my geluk in my eie sak lê.

“I am wiser than I think. I just need to slow my thoughts down and when the inner noise ceases, wisdom will have a chance to speak.”


Filed under: Gedagtes

Wintergedagtes

$
0
0

Dis meer as twee weke vandat ek laas geskryf het. Van my blogvriende tik my oor die vingers. Daar is iets wat hulle vergeet. Dit raak nou weer winter. Ek leef nie in die winter nie. Ek OORleef net. Ek probeer survive tot 22/23 Junie, die kortste dag en die langste nag. Dan troos ek myself die ergste is nou verby, hiervandaan word dit elke dag bietjie beter.  Dan survive ek weer tot 22/23 September – dag en nag ewe lank – en dan weet ek, nou is dit AFDRAAND somer toe. Dis hoe ek rol.

Tussen-in tree ek op soos ‘n mens, lyk ek soos een, maar ek is nie eintlik nie – ek haal net asem soos een. Dis elke jaar dieselfde ou vervelige storie en ek wil dit nie elke winter oorvertel nie. So, ek bly stil. Ek gaan werk toe, ek werk. Ek gaan (deesdae) gym toe, ek gym – dalk sal ek hierdie winter meer energie hê juis omdat ek gym. Ek gaan huis toe, ek eet, ek lees, ek kyk TV, ek slaap en more begin alles weer van voor af. Tussen-in bid ek dat dit nie moet baie reën nie, al weet ek die boere bid weer vir reën. Dan compromise ek en vra dat dit net in die nag moet reën sodat ek dit nie hoef te sien nie. Soms werk dit so, maar baie kere nie. Dan byt ek maar op my tande en dink nie te veel nie. En sê dankie dankie dankie vir elke ou daggie wat die son skyn, ek gee nie eers om as dit ysig koud is nie, solank dit net nie nat en bewolk is nie. Dis asof my “joi de vivre” vasslaan teen die wolke.

En as ek sien hoe party mense bly is oor die winter, moet ek myself met ernstige aanspraak weerhou daarvan om hulle te gaan vermoor, want ek is mos nou darem nie eintlik ‘n geweldadige mens nie. Maar ek weet vrouens het al losgekom van moord as gevolg van PMS. Dalk sal ek los kom as gevolg van winter? Nou ja, nou weet julle. Dis hoekom ek nie juis skryf nie, vir dié wat kwaai is met my daaroor.

Noudat ek in elk geval hier sit en skryf, ek wonder of daar iemand is wat my kan help. Wie by sy volle verstand sit voetoorgange reg voor sirkels?! Ek bedoel, seriously! Enigiemand wat al in Stellenbosch se middedorp gery het, sal weet waarvan ek praat. Hoe in die bliksemse lewe kan mens ‘n hele ry verkeer in en om ‘n sirkel tot stilstand bring omdat iemand oor die pad wil stap. Regtig waar ook. Ek het die storie nou al deeglik bekyk – ek dink regtig daar is baie ander stukke reguit pad waar die voetgangers kan oor loop. As ek die dorpsbeplanner ooit in die hande kry, wil ek hom klap tot sy ore tuit en dan op die voetoorgang reg voor die sirkel gaan neersit en heen en weer oor hom ry.

Sien, die winter doen my regtig nie goed nie. As ek weer eendag terugkom aarde toe, beter ek ‘n dier wees wat slaap in die winter of ek moet stinkryk wees sodat ek agter die son aan kan trek.

Tot die son weer skyn.


Filed under: Gedagtes

Uit die onthou-laai

$
0
0

Ek weet nie van ander mense nie, maar soms onthou ek mense sommer so uit die bloute, so in die middel van die dag of in die middel van die nag. Mense wat oor my pad gekom het vir ‘n oomblik, ‘n seisoen of ‘n leeftyd – soos daardie aanhaling sê. Daar is geen “trigger” wat maak dat hierdie mense in my kop op kom nie, geen gebeurtenis wat my aan hulle herinner nie, hulle IS sommer net skielik daar. So asof hulle my net so liggies op die skouer wil tik en seker maak ek vergeet hulle nie. Feit is, hulle is in elk geval onvergeetlik, elkeen vir sy of haar eie rede, soms ‘n klein redetjie, ander kere ‘n helse groot rede. Hulle is my bagasie, ek dra hulle saam met my. Die onthou van hulle is wel diep gebêre in die laaie van my herinneringe, maar so elke dan en wan dan tuimel hulle uit. Dalk omdat die onthou-laai bietjie oorloop, dalk omdat ek iets anders gesoek het in daardie laai en toe, sonder dat ek dit beplan het, vat ek hulle onthou raak.

Hulle is daar, altyd daar. Daarom het ek bietjie in al my onthou-laaie gaan krap – sommer net vir die nostalgie daarvan.

Daar was die Moslem vrou, nou amper veertig jaar gelede, wat een aand vir my en my ma genooi het vir aandete – iets ongehoords in daardie dae. Sy het gesien ons is honger, sy het vir ons kos gegee – so eenvoudig soos dit en tog veel meer ingewikkeld as wat mens ooit sal kan dink. Hoe sal ek haar dan ooit heeltemal vergeet?

Daar was Fanie de Kock, ‘n man met die mooiste blou oë. ‘n Man wat vreeslik lief was vir sy vrou en sy twee kindertjies. ‘n Man wat maar eenvoudig was, maar ‘n goeie man. Een wat die nood van ‘n medemens raakgesien het en sy hand uitgesteek het om te keer toe ander net weggekyk het. So elke nou en dan, as ek vir Fanie onthou, gaan luister ek “Blue Eyes Crying in the Rain.”

Daar was die Kleurlingman wat gestop het toe ek en my ma sonder petrol gaan staan het, ook nou al baie dekades gelede. Wat ‘n leë Coke blikkie en ‘n stukkie tuinslang uit sy bakkie gaan haal het, en blikkie vir blikkie petrol uit sy bakkie gesuig het en in ons motor gegooi het. Wat nie ‘n sent wou hê nie en ook nog agter ons aangery het om seker te maak ons kom veilig waar ons moet wees.

Daar was die blonde man in Victor Verster gevangenis. Elke jaar het die tronk ‘n konsert gehou en buite mense het kom luister. Ons het altyd gegaan. Vir ‘n paar jaar was hy daar, op die verhoog, met ‘n kitaar en ‘n stem soos ‘n engel. Ek ken nie sy naam nie, wonder tot vandag nog hoekom hy in die tronk was, maar onthou steeds sy gesig en hoe mooi hy gesing het. Dalk is hy lankal dood, maar ek sal altyd oor hom wonder.

Dan was daar Glenville, wat saam met my gewerk het. Wat my geleer het van krieket. Wat in 1992 vir my vier nuwe bande vir my motor koop, sonder dat ek dit vooraf weet, omdat hy weet ek trek swaar. Omdat hy ‘n dogter het wat net so oud soos ek is en nie sal toelaat dat sy met gladde bande ry nie. Wat vir my sê ek kan hom eendag terugbetaal wanneer ek kan. Hoe sê mens dankie vir so iemand? Uiteindelik het ek hom terugbetaal, maar vergeet… dit sal ek nooit nie. Ek het wel later jare probeer om sy goedheid aan my te “pay it forward”, op elke manier wat ek die kans gekry het.

Daar was oom Fred en oom Harry – die eerste gay mense wat ek ooit leer ken het, al het ek nie toe geweet hulle is gay nie, of selfs wat is gay nie. Hulle was my pa en ma se vriende en ek eer vandag my ouers omdat hulle vir twee wonderlike mense ‘n vriendelike omgewing geskep het in tye wat baie anders as nou was.

Daar was die bewaarder in Pretoria wat gesien het hoe moeilik dit vir my was toe ek daar moes gaan besoek aflê, wat gesien het ek weet niks van tronkbesoeke nie en wat dit op alle maniere vir my makliker probeer maak het. Ek het sy naam nooit vergeet nie en onlangs uitgevind hoe klein is die wêreld. ‘n Vriend van ‘n vriend se broer lê op sterwe met breinkanker. Toe ek die naam hoor, lui al die klokkies. Toe ek vra hoor ek, ja, hy was ‘n bewaarder in Pretoria. My hart is seer vir hom. Ek kan net bid vir hom.

Dis vir seker nie al mense in my onthou-laaie nie, maar dis mense wat gereeld kom groet, kom aanklop aan my herinneringe. Ek weet nie hoekom nie, dalk sodat ek nie moet vergeet van genade nie.

Die onthou van mens se lewe klop maar altyd iewers dofweg. Soms klop dit bietjie harder soos die pyn van ‘n ou besering net voor die reën kom. Soms is die onthou so diep onder in die laai gedruk dat jy dit miskyk, misvat elke keer as jy die laai ooptrek, skoon nie eers meer weet dis daar nie. Tot dit op ‘n dag van krap in die laai, van die omdolwe van ander herinneringe, kaplaks in jou kop uitval. Soms sommer net, soms deur ‘n reuk, ‘n trek van ‘n mond, ‘n klank van ‘n stem.

Dan staan mens bietjie stil by daardie onthou. Jy kyk bietjie, jy luister bietjie, jy onthou bietjie voor jy die onthou weer mooi netjies terugsit in ‘n hoekie in die laai, met die  bedoeling dat dit nie weer so ver moet wegraak tussen die ander deurmekaar nie. Dan draai jy om en jy loop weg, partykeer met ‘n seer wat saam loop, partykeer met ‘n glimlag oor ‘n mooi onthou, altyd met die wonder… onthou hulle my ook nog soms?


Filed under: Die Lewe, Lank gelede

‘n Lewe van eerstes

$
0
0

‘n Mens se lewe bestaan uit soveel eerstes.

Eerste woord sê, eerste tree gee, eerste dag skool toe, eerste fiets kry.

Eerste dag werk toe, eerste eie motor.

Eerste keer trou, eerste baba gebore, eerste eie huis.

Maar die seerste eerstes is die eerstes na iemand weg is. Daarna word dit beter. Nie baie nie, maar darem.

Ons is verby ons eerste verjaarsdae sonder haar, eerste Kersfees, eerste Nuwe Jaar, haar eerste verjaarsdag en nou staan ons voor die eerste Moedersdag – sonder ‘n Ma.

Ek was nog nooit sterk op hierdie tipe dae nie – Vadersdag, Moedersdag, Valentynsdag – eer jou Vader en jou Moeder en jou Valentyn eerder elke dag. En tog is elke advertensie, elke TV-klingel, elke kaartjie in die winkels, boksies sjokolade, lekkerruikgoed wat al die kinders roep om hul Ma’s te bederf, soos ‘n skop in my ribbes elke keer as ek dit sien, by dit verbyloop, die tydskrifte oopmaak. Want al was ek nie gepla met Moedersdag nie, herinner dit my hierdie jaar op die felste manier dat ek nie meer een het nie. Punt. Klaar. Het nie meer een nie. Sal nooit weer een hê nie. Full stop.

Dink aan jou Sus.

Gelukkig sal dit ook verbygaan. Soos al die ander. Dan is dit nog net 13 Augustus wat moet kom en gaan. Dan is hierdie eerstes ook klaar.

i-miss-you-mom


Filed under: Gedagtes

Weet nie

$
0
0

As mens se skryflus verdwyn het en mens skryf daaroor, dat jy niks het om oor te skryf nie nou skryf jy oor die niks, dan beteken dit nie jou skryflus is terug omdat jy weer skryf oor daardie niks wat jy het om oor te skryf nie. Dit beteken jy weet nie wat om te skryf nie  nou skryf jy sommer net, omdat skryf skryf is. Het ek nou al deurmekaar genoeg geskryf? Want selfs ek moet nou mooi gaan  lees om te verstaan wat ek geskryf het. Kort storie… ek het niks om oor te skryf nie, nou skryf ek oor niks.

Mmm… is dit depressie of die begin daarvan as mens na alles kyk wat jy wil lees, op blogs, in boeke en oral, en dan kyk jy en jy kyk en dan draai jy om en loop weg, of maak die rekenaar of die boek of die e-leser toe? Want jy dink ag wat de hel, wat gaan nog ‘n boek, nog ‘n blog inskrywing, nog ‘n fliek aan enigiets verander. Enigiets in die wêreld? As ek die boek klaar gelees het, as ek op die blog kommentaar gelewer het, as die fliek se endtitels rol, dan is alles nog net soos wat dit voor dit alles was. En daar gaan nooit genoeg tyd wees vir alles wat ek nog wil doen, lees, sien nie.

Wat noem mens dit as jy honger word en wonder wat om te eet en besluit ag fok dit, ek eet sommer niks, dis net te veel moeite om kos te maak? Ek drink sommer net water, of aanmaakkoeldrank. Ek kan dalk Kentucky gaan koop, of McDonalds, maar nee wat, ek het nie lus om in my kar te klim en soontoe te ry nie. Dalk eet ek sommer net brood met peanutbotter op.

Jy staan soggens op en gaan werk toe, want jy moet. Jy doen darem nog dit. En na werk of voor werk gaan gym jy, want jy is tog reeds op en ten minste laat dit jou lekker voel vir ‘n rukkie lank. Ek kan nie sover kla oor die winter nie, die seisoengode is my genadig. Die Kaap het nog nie die kennisgewing van winter gekry nie. So nou en dan reën dit in die nag, of klein bietjie in die dag, maar dis okay. I can live with that. So, dis nie winters-blues wat ek het nie. Ek het ‘n stupid griep wat ek nie afgeskud kry nie, maar daarvoor is daar medisyne. Vir die griep in my kop… ek weet nie.

En nee, vir die wat hou van die bobbejaan agter die berg uitjaag, ek het nie selfmoordneigings nie. Ek is te sissie daarvoor. En iewers binnekant nog te optimisties, want ek bly steeds glo iets lekkers lê om die volgende draai van die lewe. Ek is maar net bietjie afferig. Optimistiese ek glo more skyn die son weer. Wel, die son skyn nou ook. Heerlik daar buite. Dalk is dit waar ek moet wees. Buite in die son, nie binne voor ‘n skerm nie. Dalk moet ek Tafelberg gaan uitklim. Nie sodat die wêreld my kan sien nie, maar sodat ek weer die wêreld kan sien. En waardeer.


Filed under: Gedagtes

Ons sal dit oorleef

$
0
0

Ek het lanklaas in die oggend half vyf opgestaan om te gaan gym. Ja, ja ek weet dis ook al ‘n vervelige storie, but hear me out. Gister na werk strip ek my moer vir al die lywe en bedrywe en vir die een vroumens wat met flippers aan in die swembad swem, oor altwee bane. Bid jou aan – FLIPPERS! Is dit nie vir die see of vir duik of so iets nie? Anyway, never mind. Ek besluit toe die luigatgeit van my moet stop, ek moet half vyf myself uit die bed sleep en kom gym as dit stil en ordentlik is en mense nie daai tyd van die oggend met flippers swem nie.

Vanoggend druk ek die wekker dood en staan met moeite op en sit ligte aan. Tot die arme kat trek haar ogies klein vir die skerp lig so vroeg. Na ek my gesig met koue water gewas en my tande geborsel het, voel ek al half mens. Met een oog oop trek ek aan, pak my pakkerasie in die kar en so in die verbygaan gryp ek die flashdrive wat langs die TV lê. Die fancy gym het mos allerhande gaatjies en gleufies op die oefenmasjiene waar mens goeters kan inplug om na hulle / die TV / jou eie musiek te luister. Nou, ek het nou al CNN vrot gekyk en die TV musiek kanaal geluister – nie te sleg nie. Maar dis nou nie juis exciting genoeg om my te laat vergeet ek is besig met oefening nie. Ek weet op my flashdrive is allerhande musiek, wat ek op ‘n dag sommer net opgelaai het. En ja, ek hou van ‘n verskeidenheid so ver verwyder soos die Ooste van die Weste, so brace yourselves. Luister net nie Opera nie, of Jazz nie, in elk geval nie vrywillig nie.

My eerste stop is die “elliptical trainer”, daai masjien wat jy so loop en trap en jou arms ook so heen-en-weer maak. Kou nogal mens se boude. Ek druk daai stokkie in en sit die oorfone in en begin trap. Binne sekondes trap ek op “Gangnam Style”. Dit maak my genoegsaam wakker om ‘n lekker spoed op te werk. Ek is nog op ‘n Gangnam high toe Steve wegtrek en weergalm in my ore met “Ons sal dit oorleef”. En so waar as wragtig, daar kry ek trane in my oë daar in die gym. Gelukkig was daar niemand naby genoeg aan my om dit op te merk nie. Maar ek kyk om my rond en ek dink by myself – nee Steve, jy was nie heeltemal reg nie. Ons sal dit oorleef ja, maar nie net ons wat wit is nie. Ook ons wat so entjie weg van my af trap, met haar donker vel en haar dreadlocks, en ons wat daar aan die oorkant gewigte stoot met sy koffie kleur vel, en ons wat nou net daar by die deur in loop met hulle Maties-klere aan en hulle nagdonker vel, en ons wat met pragtige swart hare en Indiese vel oppad is boontoe om te gaan swem. Al hierdie onse is die ons wat dit sal oorleef, want ons is nog almal hier, omdat ons wil, of nie anders kan nie, of vir watter rede ook al. Ons is HIER. In hierdie land. Ons leer hier, ons leef hier, ons werk hier, ons gym hier.

Dis hoe dit is, dis hoe dit sal wees. Ons sal dit oorleef. Or we will die trying. Want ons kan nie anders nie, ons wil nie anders nie.

Wel, daarna het Kurt se Heidi my darem gou weer opgelig na ‘n ligter noot en toe het ek afgesluit met ‘n besadigde The Story van Brandi Carlisle. Ek het dit ook oorleef – die oggend se vroeg opstaan en gaan oefen. En daar was regtig niemand met flippers aan in die swembad nie. Net ekke alleen, met kaalvoete. En darem ‘n swembroek.

More maak ek weer so. Ons sal dit oorleef.


Filed under: Die Lewe, Gedagtes, Musiek

How to piss off a South African

$
0
0

Terwyl die Muse nou nog ontvries – hier is iets om te lees ;-)

How to piss off a South African (via Matador Network)

Howzit, and welcome to Suth Efrika. We are a land of delicious wines and terrible beer. Where we pay poor people dirt to guard our cars and pretend it’s employment. Elephants and lions. Mall culture and overpriced chai lattes. Where you can escape the cities in an hour and find yourself in the most…


Filed under: Raak gelees
Viewing all 150 articles
Browse latest View live