Quantcast
Channel: Kouevuur
Viewing all articles
Browse latest Browse all 150

Vergif… nis… tig

$
0
0

Vergifnis. Vergiftig. Drie letters verskil, nee, eintlik net twee. Maar tussen die -nis en die -tig lê ‘n verskil so groot soos die heelal.

Elke dag doen mense mekaar skade aan. Ja, elke dag doen mense ook goeie dinge, werklik meer as dié wat skade doen, maar goeie dade verkoop nie koerante nie, is nie sensasioneel nie, laat ons nie beter voel oor ons eie lewentjies nie, want kyk dan hoe krom en skeef is dié of daai se lewe.

Ek dink nie een persoon wat hier lees, is nie al seergemaak deur iemand nie of het nie al iemand seer gemaak nie. Dalk nie fisies nie, maar beslis emosioneel. Dalk lees hier iemand wie se naaste vermoor of verkrag is. Dalk lees hier iemand wie se geliefde ontrou was, of wie self ontrou was. Dalk lees hier iemand wie elke dag fisies mishandel word. Dalk lees hier iemand wie as kind gemolesteer is of wie se kind gemolesteer is. Dalk lees hier iemand wie se goed gesteel is, of gebreek is, of verniel is. Dalk lees hier iemand wie se siel verniel is.

Elkeen van ons kry een of ander tyd in die lewe seer. Wat ons met daai seer maak en hoe dit ons as mens agterlaat… DIT is wat die verskil maak. Want ons kan vergewe. Of ons kan vergiftig. Iewers het iemand eendag gesê die ergste ding wat jy aan jou vyand kan doen, is om hom te vergewe. En vir die wat nou reeds regop staan om te protesteer, met vergewe bedoel ek nie die ander persoon se onreg teenoor jou word onder die mat ingevee nie. Of jy moet aanhou om daardie persoon in jou lewe te hou en weer en weer vergewe nie, of jou vergifnis maak die onreg teenoor jou klein nie. Of jou vergifnis is ‘n stille goedkeuring van die persoon se daad nie. Nee, nooit nie.

Mens vergewe nie vir die oortreder se onthalwe nie. Jy vergewe vir jouself. Vir jou eie menswees, vir jou eie lewe, vir jou eie siel. Want glo my maar, vergewe jy nie, SAL jy jou eie siel vergiftig. Want hatigheid en wraakgevoelens vreet jou van binne op. Jou beeld na buite kan hoe mooi ookal lyk, maar binnekant sal die kwaad ‘n sweer maak, wat jou siel stukkie vir stukkie sal laat vrot. Die genesing van daai vergiftiging lê in die -nis van vergifnis. Dis so eenvoudig.

Maak jou los van die ander persoon se verkeerde dade. Staan opsy en weet dat die LEWE inderdaad ‘n wiel het wat draai en dat jy dit nie vir die Lewe hoef te draai nie. Die spoed is nie altyd na jou sin nie en die tyd is nie altyd jou tyd nie, maar die Lewe het sy eie kalender en horlosie. Stap weg van die kwaad wat aan jou gedoen is, weet dat die oortreder nie JOU as mens se kwaliteit bepaal nie. Glo dat jy die reg het op die beste in die lewe, maar alleenlik daardie beste sal kan toe-eien as jy vrede in jou hart het. En as dit ‘n misdaad is wat teenoor jou gepleeg is, en die misdadiger is gestraf of  nie gestraf nie, moenie dat dit die fokuspunt van die res van jou lewe word nie. Want dan word jy oor en oor elke dag weereens die slagoffer van dieselfde misdaad.

Daar word gesê haat en liefde is die sterkste emosies. Ek dink vrede in jou siel is sterker. Met vrede in jou siel, sal haat verdwyn en liefde bly.


Filed under: Gedagtes

Viewing all articles
Browse latest Browse all 150

Latest Images